My vriend, wat ek graag Sokkie noem, omdat hy my in sy diepe lewenswysheid aan Sokrates herinner, het ‘n aanval van depressie. Hy het die naweek rugby gekyk en is nie ‘n Bulls ondersteuner nie.
Sy vrou, bevryd, het boonop besluit sy gaan met haar twee vriendinne vir Vrydag, Saterdag en Sondag na ‘n plekkie in Kampsbaai en hy, terwyl hy die rugby kyk, moet na die kinders kyk. Sy gun haarself nou en dan „eie”-tyd. En sy voel hy moet ook iewers, soos sy, ure lank met die kinders deurbring. Nie dat hy kan sien wat sy alles moet verduur nie, vertel sy hom, maar sodat daar ‘n hegte vaderlike band tussen hom en sy kinders kan ontwikkel.
Sokkies, wat origens mal is oor sy vrou, het dus ook sy tydjies van teenspoed – soos almal van ons. Omdat hy ook graag bevryd wil wees, en hoewel hy verkieslik in minder-veeleisende sake bevryd sou wou leef, moes hy dus die hierdie drie naweek-dae tussen die rugby en neppies-omruil deurbring.
Die eise is groot: Hy is ‘n verstandige ouer en drink dus net een bier die hele dag voor die kassie deur – so sippie vir sippie asof daar nog net hierdie een bier in sy yskas oor is. En een van die redes waarom hy sy vrou so intens lief het is omdat sy gewoonlik nie juis vir hom vra om neppies om te ruil nie. Dat hy nou oor drie dae ‘n hele hoop moet omruil is vir hom ‘n beproweing. Elke neppie van geur is vir hom ‘n dubbele straf.
Die rampspoed het hom dus begelei van die eerste oomblik af toe die Stormers Vrydagaand aangejaag het.
Intussen is sy vrou met haar volgepakte rooi tassie en haar mooi lyf saam met haar twee vriendinne onder hom uit. Hy kon nie eers Saterdagaand na al die patetiese rugby ‘n lekker verfrissende pousetjie geniet en ‘n bietjie troos kry nie. Daar sit hy vinger-alleen terwyl hulle drie tussen die winkels en die flieks en die restaurants rondflenter.
Hy sou, vertel hy, darem ‘n bietjie minder omgegee het as hulle opheffingswerk saam met iets lofliks soos Habitat for Humanity gaan doen het, maar vir humanity het daardie drie sekerlik vere gevoel toe hulle die Kaap ingevaar het. En daardie vere het hulle veral gevoel vir hul eie humanity by hul eie huise.
Dis nie, erken hy verder verstandiglik, dat dit hom so erg en baie pla nie. Hy het immers die vorige maand ook ‘n afnaweek gehad toe hy saam met vier pelle gaan jag het. En hulle kon ook lekker praat oor al die komplikasies van die lewe. En ook oor vroumense, sodat hulle teen die einde van die naweek graag na hul warm liefdesnessies teruggejaag het. Hy gun sy beminde niks minders as wat hy vir homself gun nie.
Maar, kla hy. Sy vrou het ‘n upside oor hom gehad as dit by sy naweek teenoor hare kom. Sy het die oomblik toe sy hoor hy sit af jagplaas toe, haar ma oorgenooi om te kom kuier. Om een of ander rede is daar ‘n heel normale moeder-dogter verhouding tussen haar en haar dogter – iets wat hy nog nooit in sy getroude bestaan goed kon peil nie. Hy het niks teen moeder en dogter liefde nie, maar hy het soms gevoel daardie liefde was nooit so breed en hoog en lank dat hy daarby ingesluit sou word of ten minste met goedgunstigheid behandel sou word nie.
Toe hy en sy pelle aan die begin van die jag-naweek dus in die motor klim, was haar ma, nog uit die onbevryde geslag, met haar beady eyes en stewige, selfs imposante gestalte dus in die rondte. Sy, het hy aangevoel, kon nie wag dat hy onder hulle voete uitkom nie sodat sy haar regmatige plek oor haar dogter en haar dogter se kinders kon inneem. En sy was sigbaar teenwoordig om met ‘n deurborende kyk op te check wat alles in daardie sleepwa agter hulle 4×4 gepak was. Daardie kyk het hy eers halfpad na die jagplaas afgeskud gekry voordat hy met sy pelle oor die groot, lekker en baie lekker dinge in die lewe kon praat en kla. Maar die tjerrie was toe hy na die jag-naweek by die huis kom en ‘n ligte pik-soentjie op sy ruwe, manlike twee-dae versigtig-gekweekte liefdesbaard kry. Hy het hy die, weereens stink, vermoede gehad sy vrou en haar moeder het ‘n koninklike tydjie gehad, waarskynlik veral sonder hom en dat hy na hulle beste gevoelens maar nog ‘n dag of twee kon weggebly het. Wat is dit dan, wonder hy, hierdie ding oor ma’s wat so ‘n houvas, selfs op bevryde, dogters kan uitoefen.
Gelukkig, met haar ma later uit die pad, het hy en sy liefling weer hul liefde gevind en het sy jag-naweek in hogere sfere tot afronding gekom.
Nou, vertel hy, depressief, dit is swaar om bevryd te wees en ‘n naweek neppies om te ruil, veral omdat jy dan skielik geen netwerk van ondersteuning het nie. Sy pelle was die naweek skielik verskriklik besig met allerhande belangrike verpligtinge. Hulle wou graag by hom ‘n draai maak, maar dit was nou maar net een van daardie tye, het hulle vertel nadat hulle gehoor het skatjie is sonder die kinders vort en hy pas huis op. Hy kon nie eers sy pa, ook onbevryd, sover kry om saam met hom die rugby te kom kyk nie. En hy was seker sy skoonma met die beady eyes sou nie oorkom om die kinders se neppies om te ruil nie. As sy wel by sy huis sou opdaag, sou dit wees om te kom kyk hoe hy die neppies omruil.
Daar sit Sokkie nou, sy naweek in sy maai, die rugby van die volk in sy maai en sy vriendskappe onder kwaai druk. Sakkie is depressief. En wat kan ‘n mens nou vir hom vertel wat hom uit daardie donker bui gaan kry? Daar is mos darem perke op vriendskappe – en een daarvan is dydelik, dydelik bybies met goor doeke.