Die verlede is `n ander land

Die verlede is `n ander land

Mens verwag nie om soveel nors gesigte te sien nie. Dit is immers 8 uur op `n Saterdagoggend. Die vertrek is gevul met Engels onderwysers en die vooruitsig van `n werswinkel wat tot 15:30 sal duur is nie `n genotvolle een nie. Vir die eerste halfuur, wat uiteengesit is vir registrasie, vergader meeste om die koffietafel. Hulle eet langtand aan toebroodjies en staan in die ry vir nog `n styrofoam koppie kitskoffie. Hulle gesels oor onbenullighede. Een merk hoorbaar op dat hy wonder wat Frankryk teen Wallis sal maak. Almal moet weet dat hy veel eerder iewers anders sou wou wees. Daar word ook gebrom oor die opsigtelike afwesigheid van kollegas. Waarom moet ons hier wees as hulle eenvoudig weg bly?  Uit die kyke wat sommige onderlangs vir mekaar gee lei ek af dat hulle beplan om met die eerste tee breuk te verdwyn. Sulke kyke is teatraal onsubtiel, die oë word gerol, daar word geknik na die deur. Ontsnaproetes word openlik beplan.

Die fokus van die werkswinkel val op die verbetering van leerders se skryfwerk, vernaam kreatiewe opstelle. Sulke opdragte maak algaande `n groter deel uit van leerders se portefeulje en `n verbetering van hul skryfwerk, word vertel, sal `n algehele verbetering in uitslae te weeg bring. Die werkswinkel word aangebied deur Cheryl Logan. Sy is verbonde aan verskeie Amerikaanse universiteite waar sy betrokke is by die opleiding van voornemende onderwysers. As aanknopingspunt lees sy  `n gedig deur George Ella Lyon. Dan na haar gehoor: beantwoord hierdie vraag. Wie is jy? Dit is die proses van ontdekking wat jou verbeelding ontsluit. Dan volg haar eerste opdrag: ontleed die gedig. Wat probeer die digter ons van haarself vertel? Die antwoorde kom tentatief uit die gehoor. Lyon beskryf haarself as `n vertakking van die stamboom. Ouers en grootouers word genoem. Die fisiese en emosionele skades wat mans gelei het; die moederfigure. Die gedig is ontblotend, laat die skrywer weerloos. Logan so blik vee oor haar gehoor. Die groepie onderwysers het nog lank nie ontdooi nie. Maar Logan is ervare en laat haar nie van stryk bring nie. Goed dan, die volgende opdrag: skryf jou eie gedig in dieselfde trant as Lyon, verduidelik jou herkoms aan jou kollegas. Musiek word in die agtergrond gespeel en elkeen neem pen na papier. Elkeen in die groep onttrek vir `n wyle, keer na binne. Die vertrek is gevul met ineengekrimpte mense, vooroor in hul stoele gebuig, hard aan die dink en skryf. Vanoggend is onderwysers vir `n wyle weer in die klaskamer. Die musiek word na `n paar minute afgeskakel. Wanneer Logan die groep weer onderbreuk vra sy individue om hul pogings met die groep te deel. Meeste is maar beskeie, die skryfsels word huiwerig voorgelees; meeste moes eers gepols word. Stelselmatig het die voorlees van hierdie gedig `n gesprek geaktiveer wat geheel en al onverwags was. Niemand sou kon voorsien tot watter mate meeste hulself voor `n groep vreemdelinge sou ontbloot. Elkeen het aan persoonlike rowe gaan krap in reaksie op Lyon se emosionele relaas. Een van die mans het almal in vervoering wanneer hy `n persoonlike gedig met die groep deel. ‘I am from my grandfather, held captive on Robben island.’ Nadat hy aan die groep voorgelees het vertel hy dat hy juis tans besig is met die boekstawing van sy familiegeskiedenis. Dan gaan hy verder deur te verduidelik dat dit wat vanoggend besig is om te gebeur die een tekortkoming in die Waarheids- en Versoeningskommissie was. Hy vertel van Ashley Kriel wat deur Jeffrey Benzien vermoor is. Hy vertel van die problematiek rondom amnestie en skulderkenning. Hy vertel van drie mans met wie hy noue bande gehad het. Hulle was besig om `n bom by `n polisiestasie te plant. Maar die sekuriteitspolisie het daarin geslaag om een van hulle te draai. Daardie persoon het met die tydsmeganisme gepeuter. Die twee bomplanters is deur hul eie toestel gedood. ‘Daardie man,’ vertel hy, ‘ek weet steeds nie of ek hom kan vergewe nie.’  `n Vrou staan op en probeer om die vreemde gevoel wat sy ervaar te beskryf. ‘Toe die meneer noem dat sy oupa op Robben eiland aangehou is, het  ek besef dat my oupa, `n `n soldaat, in daardie jare daar gestasioneer is. Ons word deur die geskiedenis  verbind al besef ons dit nie.’ Die verlede is `n ander land. Die Amerikaner is ook onthuts deur die rigting wat gesprekke ingeslaan het. In haar ervaring is dit die eerste keer dat `n groep op hierdie wyse reageer. Daar is duidelik `n behoefte aan hierdie spasie waarin persoonlike verhale vertel kan word, na mense geluister kan word, verhale vervleg word. Dan gee sy die volgende opdrag: Trek `n tydlyn van jou lewe, merk daarop die belangrikste oomblikke. Dan kies jy een van daardie oomblikke en skryf daaroor in vrye hand, soos die gedagtes na jou kom. ‘Deel die verhaal uit jou tydlyn met die mense aan jou tafel.’ `n Tenger vrou sit oorkant my. Sy dra twee goue knopies in haar regteroor. Haar baadjie is toegerits tot onder haar ken. Ek kan nie uitmaak hoe oud sy is nie. Sy sit in haar stoel soos `n gewonde duif. Wanneer sy praat moet ons nader sit om te luister. Sy klink onseker wanneer sy begin. Elke kepie in haar tydlyn merk `n verlies. Sy praat sag, haar stem is teer. ‘My lewe is `n reeks verliese,’ sê sy. Van die dag se gebeure is dit die enkele reël wat my bybly: My life consists of loss. As jong meisie het sy haar ouer broer in `n ongeluk verloor. Sy het onlangs beide haar ouers aan die dood afgestaan, daarna haar enigste kind. Sy is ook deur `n egskeiding. Sy vertel dat sy na `n nuwe dorp moes trek; sy het `n onderwyspos aanvaar waar niemand haar ken nie in die hoop dat sy `n nuwe begin kon maak. Ek wonder hardop: is ons, deur hierdie verhale te skryf, nie besig om ook gebeure te verander nie? Is dit wat gebeur het dieselfde as dit waaroor ons hier skryf? Nee, dit verander nie, antwoord sy. Wel die perspektief op hierdie gebeure. Sy kan die woorde op papier neerlê sodat hulle nou netjies op die bladsy georden is. Nou kan mens hierdie gebeure herdink, heroorweeg; die gebeure is nou minder van `n bedreiging. En die perspektief op daardie gebeure verander. Mens kan nou lesse daaruit leer, perspektief vind, rustiger word. Dalk selfs vrede vind. En dalk was dit die doel van hierdie oefening, dat mens die gebeure nou vanuit `n ander hoek kan beskou. Wanneer Logan vra dat mense hul verhale deel met die groter gehoor kwyn sy. Een van die ander vroue vertel van haar eerste dag in die hoërskool. Haar onderwyser het haar meegedeel dat haar kop te rond was – hy het dit letterlik bedoel – die koepel van haar skedel was te groot en rond, en daarom sou sy nie Wiskunde kon doen nie. Almal lag lekker saam oor die belaglikhede van die verlede. Die Amerikaner het geskok toegekyk.

 

George Ella Lyon

Where I’m From

I am from clothespins,

from Clorox and carbon-tetrachloride.

I am from the dirt under the back porch.

(Black, glistening,

it  tasted like beets.)

I am from the forsythia bush

the Dutch elm

whose long-gone limbs I remember

as if they were my own.

I’m from fudge and eyeglasses,

from Imogene and Alafair.

I’m from the know-it –alls

and the pass-it-ons,

from Perk up! And Pipe down!

I’m from He restoreth my soul

with a cottonball lamb

and ten verses I can say myself.

I’m from Artemus and Billie’s Branch,

fried corn and strong coffee.

From the finger my grandfather lost

to the auger,

the eye my father shut to keep his sight.

Under my bed was a dress box

spilling old pictures,

a sift of lost faces

to drift beneath my dreams.

I am from those moments –

snapped up before I budded –

leaf-fall from the family tree.

 

 

 

 

 

Dodaj komentarz