Die Gert kind…

Kom ok nou nie juis uit wat mens sal sê ‘n goeie huis nie.  Nee hel sy ma maak my bang! Daai vrou met haar rasper stem en wilde oge, swaai sommer vir alles en niks daai ham voorarms van haar rond, en menigte vrou en man het al met ‘n blou oog van haar af gekom. Siestog ok maar arm, hang ook tydig en ontydig hier in die pawnshop langsaan rond. Sondae fix sy sommer self haar kar as die probleme gee. En moenie glo sy is skaam om te erken sy pawn vir dop nie!!

 Elk geval is dit toe nou ook nie snaaks dat die arme Gert kind, in die spesiale skool was nie. Dis ook waar hy toe vir Heila ontmoet het, sy was bietjie jonger, die dogter van Koba en Mike, van die Scrapmetal.  Siestog maar ou Gert het half nie sleg uitgedraai nie. Hy was nou anderjaar al so ruk uit die skool, en Heila het sestien geslaan, toe is sy in die annertyd. Ewetjies trou die twee toe, en ons is nogal ook genooi. Bring en braai troue gewees. Baie lekker moet ek nou erken, hulle het hulle eie bes gedoen.  Daar was pap en slaaie en blomme op die tafels. En so kry die ou tweetjies toe vir AJ, en hulle leef hulle eie leef.

 Gert het op die myn begin werk, en hulle het ‘n ou huisie, met netjiese tuintjie. 7 Honne, 3 katte, 2 varke en ‘n verkleurmannetjie.  Ek weet nie wat gebeur het nie, maar lyk my Gert is nou weg by die myn, het vir ‘n ruk lank hier by die Scrap metal by sy skoonpa rondgehang, en toe eendag kom hy weer flink hier by my ingestap. Hy begin nou sy eie besigheid, dis glo ‘n sekuriteit ding, maar eintlik volgens my meer soos buurtwag.  Jy betaal nou R100 per maand en dan pas Gert en ander knape jou huis dag en nag op. Hulle maak beurte om heeldag en nag in jou straat rond te loop en om die huise wat nou deel van die storie is. Ek kon nie aansluit nie, die geldjies is te skraps, maar iedere geval sal niemand by my inbreek om my karige aardse besittingtjies te steel nie. Ek sal hulle dik opdons met my sambok, ‘Umuruwena!’

 Nou kry ek gister half lag toe die kind hier instap kompleet in ‘n donkerblou uniform met geel sterretjies op die lapel. Het ‘n bottel whiskey kom koop, hy soek sy beursie in die een sak en kry hom nie, pak toe die ander sak se inhoud op die toonbank, sleutels, tietiebottel vol melk,pamflette…. en hy vertel my dat Heila nou weer inni anner tyd is, die nuwe baba gaan ‘n meiskindjie wees, kom glo al September. Hygend dag ek, en julle kom nou eers agter!!  Skoonpa Mike is glo glad nie gelukkig daarmee nie.  Ek reken dis ok, Gert en Heila is goeie ouers. Regtig nie sleggie!!

Dodaj komentarz