Alles wat vroeër vaag was, word stukkie vir stukkie deur Oscar, wat in werklikheid die gevreesde Mullah Khalio is, ontbloot. Terwyl ek geblinddoek in ‘n vertrekkie aangehou word, verduidelik hy dat ek vir die slapste riem ooit gevang is. Deur vernuftige oëverblindery het hulle my laat glo dat Amerika die Afghane onderdruk en ek het byna-byna in hulle hande gespeel om Scorpio hierheen te laat kom.
Khalio het blykbaar ‘n Plan B en hy neem skielik ‘n dreigende houding in.
„Leon, jy ken my as die saggeaarde Oscar Cretes, maar ek moet jou waarsku dat ek in staat is tot ongekende wreedheid.”
Hierdie keer glo ek hom heeltemal.
„My aanbod aan jou is baie billik. Ek gaan jou lewe spaar en jou kans gee om Scorpio na Afghanistan te bring. Dan gaan jy sorg dat elke liewe Amerikaanse soldaat hier onttrek voor die jaar om is.”
„Hoekom sal ek dit doen?” vra ek minagtend.
„Want ek hou jou leeuwyfie in aanhouding totdat jy suksesvol is. Sy is mos ‘n brigadier – dit is ‘n waardevolle persoon nie waar nie?”
Ek het gehoop hy sou nie bewus wees van haar rang nie. Daar was al ‘n hele paar lospryse deur Afghaanse terroriste geëis vir sulke hoë-profiel mense. Amerika het ‘n beleid om nie te onderhandel nie en ‘n hele aantal gesiene Amerikaanse burgers is reeds onthoof.
„Sy is niks van my nie en ek gee nie om as jy haar doodmaak nie” is my brawe reaksie, maar ek moet sê, ek klink nie baie oortuigend as ek na myself luister nie.
„As jy die bloed op jou hande wil hê is dit jou saak Leon, ek het baie opsies – ek kan jou uit die weg ruim, ek kan haar as gyselaar aanhou en Amerika dwing om na my pype te dans. Ek kan van vooraf met Mabuso begin onderhandel. Maar Leon, kom ons volg die pad van die minste weerstand, jy wil sekerlik brigadier White en vroutjie Rika weer veilig en snoesig by die huis besorg.”
Dit is moeilik om te glo dat Oscar Cretes, my ou vriend, toe al die tyd so ‘n ongenaakbare wreedaard is. Ek besef ek moet tyd uitkoop.
„Ek sal daaroor dink…”
„Ek is bly om dit te hoor” sê Khalio wat nog steeds regop staan. Ek wens ek kon sy gesig sien.
„Jy is nog altyd ‘n baie intelligente en inskilike mens Leon, ek is bly jy oorweeg dit om die regte keuse te maak.”
„Haal hierdie blinddoek af dat ons oog tot oog kan onderhandel” probeer ek.
„Dit kan ongelukkig nie gebeur nie want ek lyk nie meer soos die vorige keer wat jy my gesien het nie my vriend. Maar ek gaan jou ‘n daad van welwillendheid bewys, ek gaan sorg dat Brenda vanaand die aand hier saam met jou spandeer.”
„Wat van Rika?” wil ek weet. Die inligting oor haar welstand is nog vaag.
„Ons sal later oor Rika praat. Fokus eers op die prioriteit wat voorlê.”
Die volgende oomblik gee hy my ‘n druk op die skouer. Hy gee ‘n paar opdragte en ek hoor mense van hulle stoele af opstaan.
„Ek sal more-oggend na jou antwoord en jou aksieplan kom luister” sê hy met sy vriendelike stem, maar ek het nou al geleer sy ‘vriendelikheid’ is slegs om mense te manupileer.
„Terloops Leon, moenie probeer ontsnap nie, daar is wagte buite wat die opdrag het om dood te skiet as dit nodig is… Ai, en dan gaan die hele plan platval. Dit wil ons nie hê nie, nie waar nie?”
Ek bly stil en hoor ‘n geskuifel van mense wat die vertrek verlaat. Die volgende oomblik word die blinddoek afgehaal, die deur gaan oop en Brenda word binnetoe gestamp. Ek sien hulle het ‘n matras en ‘n kombers in die een hoek gegooi.
Brenda staan bekommerd nader. „Leon is jy ongeskonde?”
„Ja en jy?” Ek is verlig om te sien sy lyk heel normaal.
„Ja ek sal nie die bliksems toelaat om aan my te raak nie.”
„Knoop my los asseblief, my hande is al morsdood.”
Sy begin my losknoop en sê, „Ek is verbaas hulle laat ons hierdie vryheid toe.”
„Weet jy wie het ons gevange geneem?” kan ek nie wag om die nuus te deel nie.
„Oscar Cretes?”
„Ja, alias Oscar, sy regte naam is Mullah Khalio!”
Brenda gryp haar mond vas en staar met groot oë vorentoe. „Regtig!”
„Ja, kan jy dit glo.”
Ek lig haar in oor die ultimatum wat hy gestel het en sien die vrees in haar oë.
„So Leon, gaan jy dit doen?”
„Ek weet nie, ek moet daaroor dink. Ek vertrou nie hierdie Khalio nie en ek kan nie dink dat hy jou sommer so goedsmoeds sal loslaat as ek sy plan uitgevoer het nie.”
„Wat is ons opsies?”
Dit is ‘n moeilike vraag want die alternatiewes is maar min. „Ek dink ons moet eers ‘n rukkie rus. Ek weet nie of ons sal kan ontsnap nie, ek glo hom nogal dat hulle sal skiet as ons probeer.”
Sy is hoopvol. „Miskien kan jy voorgee of jy sy plan uitvoer, maar dan kry jy die Amerikaanse magte om my te kom bevry.”
„Ja miskien.” Ek dink egter Khalio sal bewus wees van so ‘n moontlikheid en hy is nie onder ‘n kalkoen uitgebroei nie.
„Het hy iets oor Rika gesê?” vra Brenda.
„Om een of ander rede is hy baie vaag oor haar welstand. Hy sê hulle versorg haar goed, ek weet nie wat dit beteken nie.”
„Maar dan hou hulle haar ook hier aan?”
„Dit klink of sy iewers in aanhouding is. Ek kan nie verstaan hoekom hy jou, eerder as Rika as gyselaar wil hou nie – iets is nie reg nie.”
„Hy kan sekerlik meer munt slaan uit iemand met my profiel.”
„Ja seker.”
„Sjoe ek is doodmoeg” sê Brenda en gaan lê op die matras. „Ons kan bly wees dit is somer, hierdie plek kan vrieskoud word in die winter.”
Ek gaan lê langs haar met my hande agter my kop. Daar is min tyd oor en ek beter planne begin maak.
Brenda sit haar kop op my bo-arm. Die vroeëre antagonisme en ongemaklike spanning tussen ons is iets van die verlede.
„Wat gaan in jou kop aan meneer?” vra sy bekommerd.
„Ons het nie baie opsies nie. Die gewensde oplossing is dat ons albei hier wegkom. Ons moet uitvind waar Rika is en ons moet gatskoonmaak uit Afghanistan!”
Ek wou nog in my gedagtes werk aan ‘n strategie, maar het onbewustelik ongesluimer.
In die middel van die nag skrik ek wakker met die sagte geluid van ‘n sleutel wat in die deur draai. Dan gaan die deur oop en die wag skyn sy flits in ons gesigte…